Aansig Indeks Kaart Klassiek
Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 48

'n kerk sonder god

as jy god verloor
wat bly oor
behalwe springbokrugby
biltong
braaivleis
sunny skies
en chevrolet
alles wat is
soos dit is
die wete jy moet leef
nou
terwyl jy leef
laat die wete toe
om jou aan te spoor
om jou tyd hier
in harmonie
met alles
te geniet
mense weet reeds
wat is reg en verkeerd
nevermind
wat die woord
daaroor te sê het
al word 'n hand
op die bybel geplaas
in die hof
word dit beswaarlik oopgemaak
as die regter wil tob
oor die goed en kwaad
van 'n saak
ons wen die vryheid
om vir onsself te leef
een keer voluit
al leef die gelowige
ook maar net een maal
word beslag gelê
op 'n tiende van sy tyd
konfyt en realiteit
lief jy jou kerk
behou dan jou kerk
en doen goeie werk
daar is meer as een rede
om in 'n kerkbank te sit
want al is die kerk die plek
om god te eer
kom god self niks kort nie
per definisie
gesien die almagtigheid
dis immers 'n menslike behoefte
om deel van iets groter te wees
'n les of twee te leer
wat ons tot nederigheid keer
'n kerk is 'n plek
waar mense mekaar verhale vertel
wasem in wolke
oor buitensporige goed
'n man en 'n vrou
kan saam deur woestyne reis
sonder om mekaar
liggaamlik
te groet
dis waarvoor kerke daar is
sodat mense saamkom
bymekaardrom
om saam mens te wees
god te skep
mens te leer ken
oorkant die draad
so dis beter dat ons
al is dit net tydelik
god se mag inperk
en mense krediet gee
want mense is real
god in die kop
godskep is so oud
soos die mensdom
dog dooi gode
anders was almal
vandag nog behep met
die heel eerste god
kerk toe is fliek toe gaan
voor flieks flieks was
vertel jou 'n storie
voed en begeester jou siel
grootliks onskuldig
soms tog ook nie
wees versigtig
verlustig ons nie
in sondes van ander
onthou wel
die ou kerk het gemoor
mag nooit ooit weer
'n kerk so ontspoor
verlos jouself
van die verwagting
van aksie deur 'n apatiese god
die redding wat jy reeds ontvang
is jou eie toedoen
en die mense om jou
wat jou bemoed
omdat jy bid
jou wense
liefde en smart verwoord
maak jy duidelik
aan jouself
waar jou hart sit
rig jou innerlike kompas*
*waarheid bly waarheid
al kom dit uit sarie uit
baan jy 'n roete
tussen behoefte
en vervulling
liefde is soos weerlig
gelaai in alle rigtings
'n natuurlike aantrekkingskrag
ouer as gode
of is liefde god
en god is liefde
liefde vir liefde verlig, vergroot
liefde vir haat
verduister jou sig
verminder geluk
versuur jou stof
hou jou met kwaad besig
heeldag
met haat opgestop
gode is mode
kom en gaan met die jare
daar is wel die konstante:
elke siel glo
sy god is
almal se god
al glo almal nie
in sy god nie
waar het jy van god gehoor
by god self
of in ander mense
se oorvertellings oor god
in elke kerk
is dit altyd
'n mens wat preek
god se heilige woord
is lank na die daad neergevel
informasie was skraps
skrywers het gegaps
in verbeelding se skatkis
om die gate te vul
in die aangedigte tekste
is alle gelowiges
geensins eensgesind
presies wat word belowe
en wat is vergesog
was god werklik mens
of is dit meer geloofwaardig
om te glo
mens maak die goed op
mens is die god
van die boek
die skepper
die skrywer
wat die hele boek
en alles daarin
gemaak het
om te glo in jou geloof
bied handig dog
denkbeeldige verlossing
van sonde
as jy godsdiens laat gaan
verdwyn sonde daarmee saam
en wat oorbly
is eie verantwoordelikheid
jou persoonlike keuse
om goed of sleg te wees
hier op aarde
waar jou dade
jou dompel
in die gevolge
wat jy self
veroorsaak het
dis goed om te bid
sodat jy jouself kan hoor
jouself leer ken
die mens raaksien
oor wie jy beheer het
miskien leef ons kort
vat 'n vet kans
bereik gou 'n piek
deur op ander te trap
op pad terug na jou kamp
moet jy versigtig stap
want mense wat praat
sal 'n kansvatter merk
wie galant
reg laat geskied
kom jy weg
met al jou sleg
word jy beloon
met jouself
jou eie teenwoordigheid
baie geluk
geniet jouself gate uit
selfs sonder god
bestaan goed en sleg
wat jy kies
om te wees
is dit
wat jy self
langs jou eie naam
neerskryf
as jy die hel en die hemel laat vaar
bars die illusie van regverdigheid
wat die saak toesmeer
soos van 'n wond op 'n ledemaat
lankal geamputeer
en jy's een stappie nader
aan werklikheid
al maak dit seer
is dit beter om te weet
as om dieselfde pyn
onder 'n maatemmer
van wensdenkery
weg te steek
om te lewe
is om te staan
voor dood se deur
lewenslank
sodra jy deur is
is jy te dood
om te sê
wat slegs dooies weet
en dit is
of dood ewige lewe is
ewige hel
iets anders
of bloot dood
soos ek vermoed
'n kerk is 'n plek
waar lewendes stories opdis
'n aalmoes insamel
met 'n grootse verhaal
op grootmaat vertel
idees ontkiem
in die klam grond
van 'n weetgierige groep
wat waarneem
alles gebeur alreeds
ongeag god
die roete van god tot by ons
het altyd 'n mens tussenin
selfs al sou hulle sê
dat god hulle stuur
om sy woord oor te dra
besef net dis anders
as om met die bestuurder self te praat
toeka se kerk
was tv een
ieder ingeskakel
op dieselfd verhaal
van kindsbeen af
soos dit was
in bybelse dae
toe almal net dallas kon kyk
miskien bestaan god wel
maar die teenstrydige getuienis
waaroor ons beskik
van wie of wat god is
laat my berus by die feit
dat die god van konsensus
god self nie is nie
maar wel strelende effekte
van samehorigheid
jou eie gevoel
verhouding
en naam vir god
glo liewer dit
as om te vervorm
na die wil van mense
wat jou slegs wil werf as 'n lid
realiteit is
mens is pragmaties
selfs al vind jy
die fabelagtigste verhaal
vol beloftes van
nadoodse geskenke
so wonderlik dat
dit mens laat wens
dit was waar
bly dit 'n storie
waarmee mens kan saamleef
met 'n plek op die rak
tussen al die ander stories
wat krag verwek het
sterker as elektrisiteit
menseharte verlig
om helder te skyn
heilig
soos 'n storie
oor god
vir 'n tyd
snoesig die gedagtes
van gemeenskaplike denke
almal weet iets
niemand weet als nie
weet almal genoeg
om te broei
en saam te kloek
want god weet
saam is ons
iets
geboorte
die poort
wat jou god bepaal
is lukraak
so hittete of jy was moslem
hindoe of jood
of latter day saint
wat my laat voel
watever die storie
ons is
almal
creatures
wat iewers wil uithang
vir enige rede
en 'n kerk sonder god
kan berusting
berading en redding bied
en jou laat mens laat voel
en ontmoet
en dit bestaan alreeds
oral
om elke hoek
en dis goed
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…