Aansig Indeks Kaart Klassiek
Tema
Teksgrootte
18px
Hoofstuk 69

vader kersfees

daar was 'n tyd
toe ek in kersfeesvader geglo het
en dit was lekker
om aan hom te dink
hy wat presente bring
toe eendag
skyn oom braam se hemp
deur kersvader se pak
en ek het geweet
en ek was fine
met die nie-bestaan
van my rooi afgod
en speel steeds
die speletjie saam
want dis lekker
vir die kinders
wat nog so passievol
en onskuldig glo
my vroeë wetenskaplike ek
het die bewyse gesien
en afleidings gemaak
lank het ek bewyse gesoek
dat jesus ons kom red
want dit klink wonderlik
en hy het
deur ons te wys
hoe om te leef
deur 'n goeie voorbeeld
vir ons almal te wees
of ten minste
die konsep van hom
soos aan ons voorgelê is
het jesus ons
'n kans gegee
om onsself te red
deur goed te lewe
vandag is daar vir my meer bewyse
van die mens se hand wat 'n rol gespeel het
in die bou van jesus se verhaal
die bou van die ewige lewe
en die hel
weer het ek daai strepieshemp
sien deurskyn
deur die miljoene vertellings
van jesus se kleed
en ek is fine met
die besef dat jesus nie is
wat christendom van hom verlang
om te wees nie
'n redder
wat ons hemel toe vat
maar steeds speel ek saam
en probeer soos 'n jesus lewe
sonder dat ek hom kwalik neem
dat ek myself die ewige lewe ontneem het
daarvoor het ek
soos jesus dit sou wou hê
raai ek
myself al vergeef
opgesom
ek glo in jesus
nes ek glo in kersvader
maar ek weet ook
wie hulle nie is nie
📵 Jy is tans sonder internet.

📥 Laai boek af

Stoor alle hoofstukke op jou toestel sodat jy sonder internet kan lees.

Besig om te laai…