Taboek
Riku Lätti
a
my teïsme
is nader aan ateïsme
as deïsme
god is goed en wel
maar nog nooit
foutloos verwoord
of akkuraat beskryf
of volkome verstaan
deur enige priester
in enige boek
of enige kerk nie
god is nog altyd gekaap
in elke geloof
want versoeking is te groot
en die mens te kreatief
en te goed in staat
om god na sy beeld te skep
om na besigheid om te sien
maar wie of wat
god werklik is
weet niemand nie
'n gesprek met god
is 'n monoloog
'n eggo van die ego
as probleme proporsies aanneem
verlang ons 'n mag groter as onsself
om ons te verlos
wanneer doodsgedagtes ons oorval
roep ons ons ma's
en ons god in hoop
om nog leeftyd
aan die anderkant
aan te skaf
lugtyd vir die siel
word ons skuldlas teenoor ander te groot
word god as regter aangestel
om aardse oordeel sy te stap
miskien is boeke soos die bybel
die koran
of die talmud
skrams
op ware gebeure gebaseer
maar die name
datums
en gegewens
is oor die jare heen
verander
deur mense
lankal te dood
om te bevestig
hoeveel daarvan is opgemaak
en hoeveel daarvan
is werklik god se woord
wat nog te praat
van die onderskrywing
van die beloftes
van lewe na die dood
wat eeue na sy afsterwe
die verlosser opgelê is
ook maar deur mense
ook maar bang vir die dood
ook maar gedink het
dat 'n woord van hoop
op 'n tweede lewe
as konsep beter sal verkoop
as 'n wêreld van onvermybare ongeregtigheid
en eindelik ewige dood
elke godsdiens
gee en neem
nuwe gode
uit die ribbe
van gode
lank tevore
o neem my terug
na die eerste god
dat ons die rot kan stop
voor die virus
die volk infesteer
want al is daardie god
vir hierdie volk
lankal dood
het die nuwe
tansware god
van vandag
uit die eerste god
en sy nasate
posgevat
'n religieuse universum geskep
vol swart gate
waarin rede verdwyn
wat logika verorber
helder denke
intrek en opknoop
gedagtes ontvoer
idees laat kwyn
in die dodelik dog
nodelose geveg
met die skyn
geen stelling van die waarheid
word deur geloof weerlê nie
dit word ongedaan gemaak
in die aangryp van onbewysbaarheid
as werklikheid
geen moord op aarde
so goed geregverdig
as in die naam van god nie
dog
die beste woord
vir die beskrywing
van die vernietiging
in godsnaam is
goddeloos
uit die bundel Taboek
🟢 f
✓ Deel-skakel gekopieer