Taboek
Riku Lätti
die verganklikheid van die ewige lewe
ons plaas soveel verantwoordelikheid
op die skouers van god
om ons bestaan te verleng
tot
hoe lank
gaan jy wil
wakker wees
in die ewigheid
al is 'n dag 'n duisend jaar
is die konsep van 'n miljoen
ver buite die grense
van bybelse tyd
wat nog om te praat van vir altyd en altyd
of is dit die leuen wat ons onsself wil vertel
dat ons nooit hoef sterf nie
al sterf ons wel
glo wat jy wil
maar hoe jy voortleef
na jou dood
hang af
van die mens
wat jy was
toe jy geleef het
by die mense
wat bly voortleef
jy word onthou
vir wat jy gedoen het
jou dade
kan liefde ontlok
selfs nadoods
terwyl
boosaardige dade
hang lank die stank
aan die naam
van die stoker
van haat
genade
vir almal kom
met dinktyd verby
is salige stilte
wat ek en jy kry
uit die bundel Taboek
🟢 f
✓ Deel-skakel gekopieer