die sikh glo
ons is een met god
maar ego neuk dit op
met die illusie
van 'n skeidslyn
die ek
verskyn
uit die vormlose god
wat alles is
sodra die ego homself
as apart raaksien
die wortel van alle god
en kwaad
groei uit die ego uit
vir oorlewing
is ego 'n goeie ding
jou ego kyk vir jou uit
jou ego wil jou verryk
verlang jy bewys
kyk na jouself
wat hier gedigte kom lees
jou ego het jou aangevoer
om jou jouself dieper te voed
dis goed
miskien nie gedig nie
maar wel jou moed
ego
onderworpe
aan 'n ewige dors
het 'n bestuurder
wat elke uitnodiging sal gebruik
om 'n keiser te wees
te heers
soos hy wil
selfs 'n slinkse gelaat aantrek
om dom te lyk
om vraatsug te pleeg
in 'n besluit
om meer te gryp
as wat hom toekom
as wat hy benodig
ten spyte die feite
aspris misgekyk dat
almal wen
as
almal wen
vergiftig hy sy wêreld
verhartseer hy
sy eie
maar ook almal om hom
se lot
bewussyn laat
ego besef
die waarde van weet
sonder blinddoek
alle masjinerie
tot sy beskikking aanwend
om sy paaie
met oë oop
na die toekomstige
toekoms toe
te bou
ego sal alles gebruik
in 'n geveg vir behoud
verbete
sy brein
die wyn
selfs god
as dit moet
om ego
te bevredig
ekskuus
verdedig
soos gesê
as dit moet
want wat is
god
anders
as die kollektiewe
ego van 'n groep
wat konfedereer
om 'n konsep
te skep
om mag
op aarde
te vergroot
ego is in 'n ewige stryd
met liefde
wat armdruk
liefde vir naaste
teenoor
liefde vir ek
die oplossing is
as ons sou wou
liefde vir almal
of ten minste respek
die moeite werd
om voor te werk
die moeite werd
om voor te veg
om uit te werp
etlike
ek-like
liefdes
wat die vrede omverwerp
van die geheel
die evolusie van ego
steeds gewortel
in die behoud van die ek
verlang die mag van die ons
en die ons wat is
sal sy spikkel in tyd
effe verleng
as "ons" aarde
ook insluit
ons ego vergroot
dan is mens mos
groter as mens
meer soos god
wat ons weer bring by die sikh
as ons net onsself kan vergeet
word ons een
met god