Taboek
Riku Lätti
evocatio deorum
wie is die skepper
van god
die grieke het hul eie gode geskep
die romeine het al daai gode
se name verander
vir hulself gevat
en aan hul volk verkoop
want as jy 'n magtige ryk wil bou
moet jy die gode betrek
na vore tree 'n joodse volk
wat in veldslae oorwinnings bereik
ver bo hul gewig
volkere bevrees
met die die mag van hul god
die romeinse ryk
op die ou end
te groot
te sterk
vir die joodse opstand
en op 20 julie 67
val jotapata
persoonlik oorgevat
deur titus flavius
word josef ben matitjahu ontdek
een van twee jode
wat 'n selfmoordakkoord oorleef *
* knoeiery word vermoed
oortuig hy die seun van vespasian
om hom in te vat
bespoedig met 'n voorspelling
van toekomstige keiserskap
fluks in diens
eers as slaaf
toe vertaler
later sommer familie
dames en here
ontmoet
flavius josephus
wat doen 'n mens
om so 'n eer te verdien
opgehef na die familie
van die keiser
wat sy volk van herkoms
in wrede slagtings uitgemoor het
wat doen jy om dit te verdien?
jy skryf 'n bybel
ten minste die beginste
van 'n nuwe testament
wat die joodse bloed
van roomse hande
afwas
josephus was 'n hervormer
van die jaloerse joodse god
wat ander volkere in veldslae verslaan
tot
gee die keiser wat hom toekom
van
'n oog vir 'n oog
na
draai die ander wang
'n oopsluiter
van die antisemitiese pandorasdoos
jode blameer dat hul jesus kruisig
en die romeine stap koelkat daaruit
herinner my gou
wie verdien die voorreg
om die geskiedenis te skryf
terwyl jy smul
aan die keiser se druif
josephus se tweede huwelik
met die romeinse ryk
plant die saad
vir die katolieke kerk
nogal berug
veral vir rykdom
miskien net toevallig
'n kerk gevuur
met die belofte van 'n ewige lewe
sodat almal wat swaar het
vooruitsig op beterskap kan geniet
maar dan moet jy glo
of met geld betaal
anders is jou voorland verdriet
eensklaps word miljarde na hel verdoem
'n ooreenkoms so heftig en deftig
die heiden moes die boodskap
swaard en al ontvang
is josephus
skuldig aan elke selfmoord
wat hy meesterlik aangehits het
en elke moord gepleeg deur sy kind die kerk
gebore uit die baarmoeder
van sy vrugtevolle woorde?
hoe hou mens dooies
vir dade verantwoordelik?
josephus het lekker lank geleef
en ryk gesterf
sy tong die swaard
wat hom ontvolk
en hervolk het
skuldig
aan selfsug
ten koste van sy eie mense
en ons s'n
'n onskuldige storiemaker
geen gevaar vir sy nuwe kroon
inteendeel 'n bate
wat vir hom godheid sou bekom
met sy woorde
uit die mond van jesus ontgin
waar hy
god
uit die beeld
van vespasian versin
in 'n geloof
en sy seun
titus flavius
verbeeld as
jesus christus
seun van god
die wye wêreld in
gee die keiser die skuld wat hom toekom
die romeine wat die nuwe narratief
tot godsdiens verhef
en oor die hele ryk versprei het
soos saad
wat die goeie grond gevind
en bly groei het tot vrugte
wat mense vandag nog
vir soetkoek opeet en glo
onskuldig
asof dit waar is
'n las waaraan almal
vandag nog betaal
eggo
die ego
van
die keiser
die god
en sy manteldraaier
josephus
wat ou gode kon afstof
en herverpak
as 'n splinternuwe
moderne god
wie jy eers werklik ontmoet
nadat jy groet
uit die bundel Taboek
🟢 f
✓ Deel-skakel gekopieer