Taboek
Riku Lätti
voetnota
net ter illustrasie
vir watter tipe vent
josephus was
hy was die enigste geskiedkundige van sy tyd
wat jesus buite die bybel in sy geskrifte noem
asook die enigste wat oor masada skryf
en toevallig klink dit min of meer
na presies dieselfde storie
wat met hom gebeur het
by jotapata
behalwe
dié keer is die verhaal vermoedelik gerekonstrueer
uit vertellings van romeinse soldate aan die een kant
en aan die ander
die bybelse getal van twee vroue en vyf kinders
wat die selfmoordverdrag oorleef het
deur weg te kruip in 'n kuip
nietemin het die vindingryke josephus
uit die karige informasie
van die oog- en oorgetuies
een van die mees imposante stukke retoriek
deur eleazar ben jair neergepen
waarin in die joodse leier
met die romeine dreigend
anderkant die muur
die laaste 960 opstandige jode oortuig
om hulself te vermoor
al is dit deur middel van 'n komplekse loterysisteem
gaan lees dit gerus
dis tot vandag toe nog op die internet
eleazar se grootste oomblik
á la mel gibson in braveheartiaanse verset:
ons het lank reeds vas besluit
om geen romein of enige ander te dien
behalwe god
regverdige alleenheerser
van die hele mensdom
die tyd het gekom
om ons woorde
te staaf met daad
ons was die eerstes in opstand
ons is die laaste staande in die geveg
om die guns wat god ons gewys het
terug te betoon
is dit nodig vir ons om heldhaftig te sterf
terwyl ons dit nog as vry volk kan doen
dit maar 'n fragment van die ellelange toespraak
gebring en bewaar vir ons
deur die vrou in die kuip
of die romeinse kommandeur
anderkant die muur
of opgediep uit josephus homself
wat reeds 'n soortgelyke scenario oorleef het
kies maar self die antwoord wat jy dink
meer geloofwaardigheid bied
en van die marmer in masada
in josephus se vertellings genoem
is daar geen spikkel te vind nie
daar was wel moer baie marmer in rome daai tyd
so ek imagine daai storie is in rome versin
dalk om te verbloem dat unlike die norm daai tyd
waar romeine opstandige volke uitgemoor het
hier iets anders gebeur het:
die jode het by masada hulself gedood
volgens josephus se skone woorde
wat romeinse hande in onskuld was
of so speel die fliek in rome af
net soos met jesus
word dit vertel
dat dit ook die jode was
wat die messias vermoor het
waar hy gehang het aan 'n roomse kruis
lekker lonend die lewe
van 'n joodse skrywer in die romeinse ryk
as jy bereid is om jou volk te verraai
en die waarheid toe te draai
in die keiser se kleure
uit die bundel Taboek
🟢 f
✓ Deel-skakel gekopieer