Taboek
Riku Lätti
jesus was
was sy naam jesus
of is dit na sy tyd hom toegedig
het hy elke liewe wonderwerk self uitgevoer
of het hy so paar van ander gode geërf
die maagdelike geboorte van horus
nogal op kersfees
sol invictus se verjaarsdag
alle dank aan god van drank
dionisus verander water in wyn
meer as 'n duisend jaar voor
jesus sy mond aan asyn sou sit
maar dit glo ek vir seker:
daar was 'n opstandeling
wat by die tempel moeilikheid gaan loop staan en maak het
want die hoofpriester het gekonkel
met die romeine wat hul volk onderdruk het
dit sou enige trotse seun
wat sy sout werd is
die joos in gehad het
iemand het vir seker daai tafels gaan omruk
daai klink soos die daad van 'n redder
iemand wat opstaan
vir die saak van sy volk
'n daad so asembenewend besonders
hy word die chuck norris van sy tyd
ontketen 'n stroom van vertellings
uit verskeie oorde gehoor
elkeen mens wat ietsie onthou
van iemand anders iewers so befok
die storie wil homself vertel
en wie word hoofkarakter
van elke goeie verhaal
alles ware gebeure
nou onder een nuwe naam versamel
jesus
die priesters raak opgeruk
voor die haan drie keer kraai
lewer hulle die kind aan die romeine uit
geken vir die uitmoor
van sektes wat hul god
bo die mag van die keiser ag
die vroue huil
die liewe arme kind word gekruisig
die mans berus
stil jou tong
dis maar wat romeine doen
sê 'n verkeerde ding
en daai lot kom jou ook toe
vergader geliefdes wat
liefdes in die stryd
verloor het:
wat as daai kind die messias was
en hy is nou dood
deur pilatus vermoor
oor jare versamel die haat teen die staat
soos uit 'n mosterdsaad
het die toorn gegroei
en die volk het met die romeine bly stoei
tot titus flavius jerusalem verower en
die tempel van die jode
afbreek vir die tweede keer
maar die sout
in die wond
is die romeine
wat deur middel van
hebreeuse skrywers
die nuwe joodse geskiedenis skryf
oor hoe die jode se krete
kwansuis gedreun het
gee ons barabas
en kruisig jesus
uit die bundel Taboek
🟢 f
✓ Deel-skakel gekopieer