dis soos robin jaye
een dag aan gabriel vertel
jesus was a good guy
and then he died
and then people
made a big deal out of it
jesus was
'n lieflike mens
die kind van god
soos almal van ons
en god ook
maar mens se kind
dis reg om jesus lief te hê
want jesus het ons van die bose gered
deur ons te leer om te leef
in sy voorbeeld
want as jy in sy spoor stap
sal jy saligheid ontvang
in vrede met almal kan leef
selfs dié wat jou kruisig
want wie op aarde like nie 'n ou
wat wyn na die fees toe bring nie
met 'n goeie antwoord op elke vraag
wat mense verlig en genees
voedsel vermeerder
deur 'n skare te wys
as ons voedsel uitdeel
bly oor
twaalf mandjies vol
die beste mens wat nog ooit was
vasgepen 'n leeftyd na sy leeftyd
deur mense wat aspirasies het
hier geleen en aangedig
en siedaar
jesus
'n konkoksie
gegiet uit die
beste eienskappe
van alle goeie gode
'n supergod
'n kompilasie wonderdade
uit vroeër verhale
aangepas en oorhandig
aan jesus
wat relatief vinnig beswyk net
na slegs 6 uur op die kruis
net so vinnig weer opgestaan het
na sy korte dood
op die derde dag
byt feit in die stof
soos sy bloed
vir mense
wat wil aandring
om aan die ewige lewe te ly
hoeveel hooi kan op 'n kameel se rug
om al die ryk evangeliste op aarde
in die hemel te besorg
never mind die admin alleen
i mean
as ons van jesus verwag
om ons almal persoonlik te red
wys my die plek
waar hy die ooreenkoms onderteken het
of was dit paulus
die keiser
of die pous
en juffrou van niekerk
wat daardie ooreenkoms
postuum
uit jesusmond laat val het
wat ons wel vir seker weet
al jesus se woorde
is hoorsê
'n geslag later eers
op papier rus neergelê
en as ek kyk
hoe woorde 'n daad in 'n minuut kan verdraai
laai elke jaar 'n grashalm
op daai donkie se rug
is dit te verstane
hoe onmenslik wonderlik
een mens kan word
besef ek
jesus
is die wonderlike
resultaat
as godmaak
aan mens oorgelaat word