Taboek
Riku Lätti
gedoem tot perfeksie
ek vind myself
in 'n satoriese oomblik
in die veld
in 'n groot besef
alles is perfek
soos dit is
die kiepersol kiep
die karee kareer
elke boom boomeer
elke blaar baljaar
volmaak blaar
elke atoom op sy plek
of twee
of tien
dis wanneer ons kyk
dat ons dit affekteer
alles wat is
is slegs een ding
alles
en dit
is
ineengepas
met alles anders
wat dit vernietig
of voed
dis die springbok
die leeu
die veld
die brand
dis alles
net soos dit moet wees
selfs die mens
met sy pyne
en sy kanker
sy bomme
en sy banke
en sy allesverterende ego
wat die wêreld verander
floreer
soos die beer
selfs beter as die beer
meer soos die beer
met die geweer
later die aand
glas wyn in die hand
werp ek 'n stukkie volmaakte skepping
op my volmaakte vuur
ek merk die vernietigende vlamme
wat lek aan die hout
van die boom wat was
met brokkies son wat daaruit ontsnap
om my warm te hou
warm genoeg
om van koue
en kwellings
te vergeet
vir die kans om te wonder
of god nie ook soms
wanneer sy in haar skik
op die mensdom neerkyk
miskien met 'n glas goddelike wyn
in die goddelike ekwivalent van 'n hand
oorlog aanskou
en soos ek
opmerk
is dit nou
nie vir jou
'n gesellige ou
kampvuurtjie nie!
en ek wonder
aan wie sou god
dit gesê het
uit die bundel Taboek
🟢 f
✓ Deel-skakel gekopieer