'n verwarrende vertaling
het jou geskep
uit die môrester
uitge-ekstrapoleer
verskoon tog my appropriasie
van die aaklige engelse woord
ons kan dit aftrek van die rekening
van alles wat die engelse van ons gesteel het
in 'n woedende gedig in jesaja 14
oor die onderdrukking
wat die jode in ballingskap ervaar het
word die koning van babel
'n val toegewens
soos 'n wafferse môrester
wat daal uit die lug
voor sy die hoogste hoog bereik
vandag weet ons wel
venus is die môrester
'n planeet
nader as ons
aan die son
reflekteer die son se lig
aarde toe
met sonsopkoms en
-ondergang
wat dan snel genoeg
verdwyn
somehow word jy satan
en suddenly ons
gewaarsku oor jou
maklik drie keer 'n dag
om ons na god
se goedheid te por
wat my laat dink
die mense maak weer
nuwe godsdiens
of ten minste satanskennis
voor die voet op
in watse boek lees ons
satan se wil
of in hoe 'n mate
kan ons die woord vertrou
van 'n mens wat sê
dat hy met die duiwel praat?
verlos satan
van sy pos
en jou pyn
laat elke mens
self verantwoord
vir sy eie doen en late
en maak lucifer
weereens
die bringer van lig
soos sy was
lank voor die mens
geweet het van die duiwel
of van god